HOME      SOCIETY      BREED      BREEDPLAN      ILR ONLINE      SALES      SHOWS      DOCUMENTS      PUBLICATIONS      MEMBER PROFILES      CONTACT

  

Articles
____________________________________________________

  
      Return to list of articles

Essie, Black Diamond, Bon Chance Limousins
____________________________________________________

Sowat 15 kilometer buite Bothaville, Vrystaat, langs ‘n sinkplaat-grondpad is Hartebeesbult geleë. Dit is op hierdie plaas waar jy ‘n lang man met ‘n khaki uitrusting, rooi keps en ‘n donker baard, tussen sy beeste sou vind. Hartebeesbult is en was die tuiste van Coen Steenkamp, sy familie en die swart en wit Jack Russel, Leeu.

Dit is ook híér waar Essie Limousins in 1987 ontstaan het, en na 38 jaar word 3 kuddes; naamlik Essie, Black Diamond en Bon Chance Limousins, suksesvol hier bestuur.

Theo Kruger, president van die stigtersraad van Limousin Suid Afrika en later ook die president van die genootskap (1986 tot 1992), sowel as ‘n beoordeelaar. Theo was een van die invoerders wat in 1975 vroulike diere vanaf Frankryk ingevoer het, en so het Bon Chance Limousins sy ontstaan in Oktober 1975 gehad met die invoer van 8 ongedekte verse. Semen van die toe bekende KI bulle Favori, Flavus en Filou is gebruik.

Die verse wat die grootste invloed op die kudde gehad het was afkomstig uit die kuddes van Monsieur Chastanet (S Lyn), Monsieur Blancher (G Lyn), Monsieur Buxeraux (F Lyn) en Monsieur Peyjou (A Lyn). Die bul Bon Chance Aggenee (Filo seun en kleinseun van die bekende Dahlia) het ook ‘n groot invloed in die opbou van die kudde gehad, onder andere die vaar van Bon Chance Genoeg 80 en Bon Chance Fameuse 81 – moeder van die Francilla familie. 

Bon Chance Genoeg 80 is in verskeie kuddes as kuddevaar gebruik en daar is tot vandag van sy bloedlyne in Essie, Black Diamond en Bon Chance Limousins.

In 1985 is 4 dragtige verse ingevoer, afkomstig uit die kuddes van Monsieur Louis de Neuville, Monsieur Ronald Marceilloux en Monsieur Beyrand en die bekende bul Valromey (Monsieur J M Bontet). Hieruit is die P- R- en U koeilyne ontwikkel, gevolg in 1987 deur die gesogte koeilyn in Frankryk – Alouette (O-lyn) ‘n halfsuster van Cachou.

Valromey is as kuddevaar verantwoordelik vir ‘n nageslag bestaande uit goeie kuddevaars en verskeie skou-wenners. Die bekendstes is Bon Chance Valmy en Bon Chance Vosca (gebruik in die Essie kudde). 

Deur Coen en Theo se vriendskap, het Coen van Limousins kennis geneem en het hy dadelik van die diere se bouvorm, geaardheid en goeie temperament gehou. Die klein kalfies by kalwing het ‘n groot invloed op sy keuse gehad. Essie Limousins is in 1987 gestig met een dragtige vers uit Frankryk en een koei wat vanaf die Bon Chance kudde aangekoop is. In 1988, na ‘n vinnige draai in Frankryk met Theo, is nog 8 verse (4 dragtig en 4 speenverse) ingevoer vanuit die kuddes van Monsieur Louis de Neuville, Jamot, Toulisse en Boutet. Bon Chance Vosca en Wanita Theodore (kuddevaar 1988 – 1993) is gebruik in die opbou van die kudde.

Bon Chance Vosca (kuddevaar 1990 – 1997) was in 1989 die kampioen bul op Bloemfontein skou en in 1990 is hy op die Randse skou as kampioen bul gekroon.

In Februarie 1991 het Coen en Theo saam die bekende bul Etna (seun van Bicot – Franse kampioen 1990 – kleinseun van Prince) ingevoer. Etna was in 1992 as die ras kampioen bul op Pretoria skou aangewys en in 1993 as die senior, groot en ras kampioen bul op Bloemfontein skou gekroon. Etna het ‘n merkwaardige nageslag geteel waarvan Essie SPO0017 (ma van La Rhone Escape, Essie Etma, Essie Eton, Essie Etbo en Bon Chance Etsa ‘n paar van die diere is.

Op Woensdag, 26 Oktober 1994 het Coen ‘n algehele uitverkoping van alle vroulike diere in die Essie kudde bo die ouderdom van 3 jaar, gehou. Van die vroulike diere wat op hierdie veiling verkoop is, was onder andere Anisette, Darling, Donzelle, Becasse, Belote, Bambelle en Dinette; almal afkomstig van Frankryk.

In 1995 voer Coen, Theo en Dr. Swart 3 nuwe bulle genaamd Juju, Jacobus en Junior in vanaf Frankryk.

In 1998 het Coen gekwalifiseer as Limousin ras beoordeelaar.

Coen het ook verskeie koeie van Warrie Cilliers van Wanita Limousins gekoop, van die koeie was onder andere Wanita Charlene, die moeder van die Charlene familie en Wanita Valentine, die moeder van die Valente familie.

Bets (Coen se vrou) het 10 swart Angus koeie by haar oom geerf en so het Coen die Limousin bul, genaamd Black Powder, op daardie koeie gebruik en die nasate van die diere is toe aanhangsels gemaak en hy het die kudde as Black Powder Limousins geregistreer. Later, toe die swart diere meer rooi geword het, het Coen semen ingevoer en in 1999 is Black Diamond Limousins by die konsortium in Harrismith gekoop.

Hiervan is die Black Diamond Limousin stoet wat vir ‘n tyd die enigste swart Limousin-stoet in Suid-Afrika was.

In November 2003 sluit Erpe Jansen van Vuuren by Essie en Black Diamond Limousins aan, en hy word later die bestuurder en ook die “gesig” van die twee kuddes.

In 2007 word Essie Vobess – ‘n dogter uit die Donbess familie – op Vryburg skou gekroon as Suid-Afrika se groot kampioen koei, asook kampioen tydens die interras. In daardie jaar was daar 1 200 beeste oor al die rasse op Vryburg skou. Op Bloemfontein skou wen Vobess ook die interras.

In 2012 word die koei Floris Elma – uit die Alouette familie – by die bekende Floris

Limousins gekoop, sy was dragtig van La Rhone Escape – ‘n Etna kleinseun – en op 4 Oktober 2012 is Essie Escama gebore. Wat ‘n besonderse bul was hy nie! Escama is vanaf 2017 in die kuddes gebruik en in 2020 word hy as kuddevaar oor die 3 kuddes gebruik. Escama het die hele kudde se tipe verander deur meer sagter bespiering en goeie diepte in die nageslag by te voeg.

Verskeie bulle – genaamd Donor, Haka, Qwela en Monk - van Hennie Viljoen van die Renlo Limousin- stoet, word later in die kuddes gebruik. Hierdie bulle het ‘n goeie vroulike lyn geteel.

Op 1 Januarie 2017 koop Erpe Bon Chance Limousins by Theo Kruger, die kudde is steeds in sy besit.

Tydens die 2019 Nasionale Kampioenskappe, waartydens Essie Classic 5-7 as Intermediêre kampioen vers gekroon was, het Essie, Black Diamond en Bon Chance Limousins uitstekend gevaar.

Invoer-genetika is die hoeksteen van Essie, Black Diamond en Bon Chance Limousins. 

Essie Limousins bestaan uit verskeie sterk koei families; soos Charlene, Valente, Hotplate, Wine, Classic en Chance. Black Diamond Limousins huisves bekende families; soos Cadet, Denim, Vision en Shani. Bon Chance Limousins bevat verskeie goeie koei bloedlyne; soos die Riego, Ronel, Anet en Carla families.

Na meer as 35 jaar kan ons met trots terugkyk na ‘n geskiedenis gevul met genade, liefde, visie en passie en ons dank ons Hemelse Vader vir soveel seëninge.

Essie, Black Diamond en Bon Chance Limousins; ‘n geskiedenis soos min.

 
 
   
 
 
 

2026
Limousin Cattle Breeders' Society of Southern Africa
Website Terms & Conditions

            

ADDRESS:  
172 Benade Rylaan, Fichardtpark, Bloemfontein, 9300
TELEPHONE:   (051) 444 5082 / 082 571 6709
EMAIL:   info@limousinsa.co.za